Grondwet van die Nature's Valley Belastingbetalersvereniging

 

1           Naam
Die naam van die Vereniging is:
NATURE'S VALLEY BELASTINGBETALERSVERENIGING, afgekort as NVBV, of "NATURE'S VALLEY RATEPAYERS' ASSOCIATION, abbreviated as NVRA".

2            Doelstellings
Die oogmerke van die "Vereniging" is:

2.1  Om die eiendomsbelastingpligtiges te verteenwoordig en om na hulle belange om te sien.

2.2  Om 'n gespreksforum vir lede te wees.

2.3 Om as waghond op te tree ten einde 'n regverdige bedeling van Plaaslike Owerhede vir lede te verseker.

2.4 Om veiligheid in die dorpsgebied en omtrek te verskerp

2.5 Om as aksie- of drukgroep op te tree.

2.6 Om ordelike en omgewingsvriendelike ontwikkeling van die dorpsgebied te ondersteun.

2.6.1      Om die enkel-residensiële (Residensiëel 1) status van Nature's Valley te behou.

2.6.2      Om die onderverdeling van Residensiëel 1 erwe teen te staan.

2.7 Om die volhoubaarheid van die natuurlike erfenis van die dorpsgebied en onmiddellike aangrensende gebiede te ondersteun.

2.8 Om namens Nature's Valley ooreenkomste met enige relevante gesagsstruktuur aan te gaan.

3           Lidmaatskap
Alle natuurlike persone of wetlike entiteite wat geregistreerde belastingpligtige eienaars van onroerende eiendom in Nature's Valley is en wat ledegelde aan die NVBV betaal het, soos wat van tyd-tot-tyd tydens AJV's bepaal word, is lede van die Vereniging (sien ook 4.3.2 en 4.3.3).

4           Algemene jaarvergadering

4.1  Datum
Die Algemene Jaarvergadering van die NVBV sal op 'n geskikte datum tydens die Desember-vakansies gehou word. Die Komitee sal besluit oor die Datum, tyd en plek van die vergadering.

4.2 Kennisgewing

4.2.1      Die Plaaslike Aksiekomitee sal reël dat 'n aantal kennisgewings wat die AJV aankondig op sigbare plekke, minstens 'n week voor die vergadering uitgehang word.

4.2.2      Waar moontlik moet kennis van die AJV ook in die Vereniging se Nuusbrief gegee word.

4.3 Stemgeregtigdheid

4.3.1      Enige persoon wat in Nature's Valley belangstel mag die Algemene Jaarvergadering bywoon, maar slegs lede van die NVBV mag voorstelle maak en stem.

4.3.2      Slegs een stem mag uitgebring word per enkel residensiële eiendom, of dit 'n persoon, assosiasie of besigheid is.

4.3.3      Indien die persoon wat 'n stem uitbring, nie die geregistreerde eienaar van die eiendom is nie, moet die eienaar of wetlike entiteit hul gevolmagtigde lid jaarliks skriftelik nomineer.

4.3.4      'n Lid mag 'n gevolmagtigde nomineer. Sodanige volmag moet skriftelik wees.

4.4 Kworum
Die teenwoordige lede vorm 'n kworum.

4.5 Sakelys
Die Komitee sal 'n sakelys vir die AJV opstel, maar enige lid het die reg om minstens een week voor die AJV 'n bepaalde saak op die sakelys te pleas vir bespreking tydens die AJV.

4.6 Jaarverslag

4.6.1      Die Voorsitter is ex officio voorsitter tydens die Algemene Jaarvergadering en sal die Jaarverslag voordra.

4.6.2       Is nie op die dokument wat ek ontvang het nie?  Engela

4.6.3      Die Jaarverslag sal waar moontlik ook in die Nuusbrief van die NVBV gepubliseer word.

4.7 Stemming

4.7.1       Alle voorstelle moet behoorlik voorgestel en gesekondeer word.

4.7.2      Alle voorstelle moet onderwerp word aan stemming. Die voorstel of wysiging wat die absolute meerderheid stemme trek (een meer as die helfte) word aanvaar as 'n bindende besluit van die vergadering.

4.7.3       'n Twee-derdes meerderheid sal van toepassing wees, indien die Komitee van mening is dat die voorstel dit regverdig, alvorens dit aanvaar sal word.

4.8  Magte en Pligte

4.8.1      Verkiesing van die Komitee
Soveel Komiteelede, as wat nodig is, word tydens die Algemene Jaarvergadering verkies, na behoorlike nominasie en stemming. Slegs Lede van die NVBV is verkiesbaar.

4.8.2      Algemene Sake
Die Algemene Jaarvergadering sal die belange van die Belastingbetalers aanspreek, asook alle sake wat deur Lede geopper word tydens die AJV.

4.8.3      Afvaardiging
Die Algemene Jaarvergadering mag enige sake aan die Komitee opdra vir aandag en optrede.

5           Die Komitee

5.1 Lede
Die Komitee sal uit nie meer as agtien (18) Lede bestaan nie, waarvan die meerderheid verkieslik Permanente inwoners van Nature's Valley is. Verkiesing van Lede vind tydens die AJV plaas.

5.2 Verkiesing

5.2.1       Enige Lid, of genomineerde lid mag genomineer word, of mag 'n Lid (Lede) voorstel om op die Komitee te dien.

5.2.2      Alle kandidate moet behoorlik voorgestel en gesekondeer word.

5.2.3      Die vereiste aantal Komiteelede sal verkies word vanuit die genomineerdes deur geheime stemming of soos bepaal tydens die AJV.

5.2.4      Kandidate met 'n volstrekte meerderheid sal as behoorlik verkies verklaar word, as lede van die Komitee.

5.2.5      Die Komitee het die reg tot koöpsie.

5.3 Dienstermyn

5.3.1      Alle Lede van die Komitee se dienstermyn is twee jaar, waarna hulle weer herverkiesbaar is.

5.3.2       Beëindiging van die dienstermyn voordat die twee jaar gedien is, moet skriftelik geskied.

5.4 Vergaderings

5.4.1      Die Komitee sal minstens twee keer per jaar vergader, byvoorbeeld voor- en na die Algemene Jaarvergadering.

5.4.2      'n Kworum is 'n meerderheid (groter as 50%) van die aantal Lede van die Komitee.

5.4.3      Die Voorsitter sal 'n beslissende stem kan uitoefen.

5.5 Organisasie en Strukture

5.5.1       Die Komitee sal 'n Voorsitter aanwys (verkies).

5.5.2      Die Komitee sal in sub-komitees herorganiseer, elk met 'n voorsitter. Elke sub-komitee sal vir 'n bepaalde portefeulje verantwoordelik wees, soos byvoorbeeld: Infrastruktuur, Omgewing, Fondse, Ontwikkeling en Bouregulasies, Kommunikasie, ens.

5.5.3      Lede van die Komitee wat permanent in Nature's Valley woon sal 'n Plaaslike Aksiekomitee (PAK) vorm. Hierdie PAK sal 'n voorsitter aanwys. Indien hierdie persoon nie die Voorsitter van die NVBV is nie, sal die persoon ex officio Onder-Voorsitter van die Vereniging word. Sou die Voorsitter van die NVBV en die PAK, dieselfde persoon wees, dan moet die Vereniging 'n Onder-Voorsitter aanwys. Die PAK het die reg toe koöpsie. Die PAK is verantwoordelik vir die kantoor van die Vereniging, alle rekords, enige personeel en al die bates van die Vereniging. Die PAK is vir die dag-tot-dag take van die Vereniging verantwoordelik en verteenwoordig ook die Vereniging by Raadsvergaderings van die Plaaslike Munisipaliteit, of enige ander komitees of strukture.

5.6 Magte en Pligte

5.6.1      Die Komitee, Sub-Komitees en Plaaslike Aksiekomitee is aan die Lede aanspreeklik.

5.6.2      Die Komitees sal behoorlike notules van alle aksies hou, rekords van fondse en alle bates van die Vereniging.

5.6.3      Die Komitee sal 'n geskrewe Jaarverslag oor alle aktiwiteite, Finansiële State asook enige aanbevelings aan die Jaarvergadering voorhou.

5.6.4      Die Komitee het die reg om persone wat 'n bydrae kan lewer na vergaderings uit te nooi.

5.6.5      Die Komitee mag aanstelling maak, indien dit nodig blyk te wees om die doelstellings van die Vereniging uit te voer.

5.6.6      Die Komitee mag kantore huur vir huisvesting van die Vereniging.

5.6.7      Notules moet van alle vergaderings gehou word en op rekord geplaas word.

6           Veranderings aan die Konstitusie

6.1 Die Konstitusie kan verander word met 'n twee-derde meerderheidstem van teenwoordige stemgeregtigde lede van die "Vereniging" wat ten gunste van 'n voorgestelde wysiging tydens 'n Algemene Jaarvergadering stem.

6.2 Kennisgewing van veranderinge aan die konstitusie moet by die kantore van die Vereniging of enige ander sigbare plekke, minstens een week voor die Algemene Jaarvergadering vertoon word.

7           Fondse

7.1 Fondse vir die Vereniging sal op 'n jaarlikse grondslag van Belastingbetalers gevorder word, teen 'n tarief soos deur die lede goedgekeur is by die AJV (sien ook 3).

7.2 Die Vereniging sal as 'n nie-winsgewende organisasie bedryf word.

7.3 Die finansies van die Vereniging sal jaarliks behoorlik geoudit word en die Ouditeurs sal jaarliks tydens die AJV aangestel word.

7.4 Die finansiele jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.

8           Regspersoonlikheid
Die "Vereniging" is 'n regspersoon wat namens sy Lede kan optree.

9           Aanspreeklikheid van lede van die Komitee
'n Lid van die Komitee is nie aanspreeklik vir enige skuld, skade of verlies deur die "Vereniging" gely nie, tensy hy/sy sonder magtiging, opsetlik, kwaadwillig of nalatig opgetree het.

10        Ontbinding van die NVBV :

10.1 Die vereniging sal ontbind indien twee-derdes van die Lede sodanig besluit.

10.2 Die Lede sal bepaal oor wat met die bates sal gebeur.